In Westerse musieknotasie is die notebalk of balk ’n stel van vyf horisontale lyne en vier spasies wat elk ’n ander musikale toonhoogte; of, in die geval van ’n perkussiebalk, verskillende slaginstrumente voorstel. Gepaste musieksimbole word op die balk geplaas volgens hulle ooreenstemmende toonhoogte of funksie na gelang van die bedoelde effek wat dit moet skep. Musieknote word volgens toonhoogte geplaas, note van slaginstrumente volgens instrument, en rustekens en ander simbole word volgens konvensie geplaas.
Die absolute toonhoogte van elke lyn van ’n balk vir nieslaginstrumente word aangedui deur die plasing van ’n sleutelsimbool by die gepaste vertikale posisie aan die linkerkant van die balk (moontlik gewysig deur konvensies vir spesifieke instrumente). Byvoorbeeld, die diskantsleutel, wat ook as die G-sleutel bekend staan, word op die tweede lyn (van onder af getel) geplaas, wat daardie lyn vasstel as die toonhoogte van die eerste G bo middel-C.
Die lyne en spasies word van onder na bo genommer; die onderste lyn is die eerste lyn en die boonste lyn is die vyfde lyn.
Die notebalk is soortgelyk aan ’n wiskundige grafiek van van toonhoogte ten opsigte van tyd. Toonhoogtes van note word getoon deur hulle vertikale posisie op die balk en note word van links na regs gespeel. Anders as by ’n grafiek hang die aantal halftone wat deur ’n vertikale trap van ’n lyn tot ’n aanliggende spasie aangedui word van die toonsoort af, en die presiese tydsberekening van die begin van elke noot is nie direk eweredig aan sy horisontale posisie nie; die presiese tydsberekening word eerder bepaal deur die musieksimbool wat vir elke noot gekies word, saam met die tempo.
’n Tydmaatteken regs van die sleutel dui die verhouding tussen die tydtelling en nootsimbole aan, terwyl maatstrepe note op die balk in mate saamgroepeer.